Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 07 Maart 2010

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web by www.sarl.org.za. Klik op ‘ARMI’ en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZSOJPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB.(Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

NOMINASIES INGEWAG VIR DIE RADIOAMATEUR VAN DIE JAAR TOEKENNINGS

DIE SARL SE PROGRAM: WORKED ALL ZS

DATUM VAN PIC-KURSUS BY NARS VERSKUIF

HOE ERNSTIG KAN DIE UITWERKING VAN RFS WEES?

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede en ander belangrike en interessante nuusitems.

NOMINASIES INGEWAG VIR DIE RADIOAMATEUR VAN DIE JAAR TOEKENNINGS

Die Suid-Afrikaanse Amateurradio-ontwikkelingstrust wag nominasies in vir die Nokia Siemens Netwerke (NSN) Radioamateur van die Jaar en Gemeenskapsdienstoekennings. Die drie kategorieë vir toekennings is:

GARTH MILNE TEGNIESE INNOVERINGSTOEKENNING

Hierdie toekenning word gemaak vir die ondersteuning, ontwikkeling en toepassing van tegniese innovasie in amateurradio in Suid-Afrika. Die ontvanger sal ’n persoon wees wat die gebruik van tegnologie op klubvlak, nasionaal, by skole of tersiêre inrigtings, bevorder het.

NSN RADIOAMATEUR VAN DIE JAAR TOEKENNING

Hierdie toekenning word gemaak vir die ondersteuning en ontwikkeling van die amateurradiodiens in Suid-Afrika, nie vir individuele prestasies soos DXCC of ander bedryfstoekennings of kompetisies nie. Die persoon sal iemand wees wat sy of haar kundigheid en tyd gewy het aan die bevordering van amateurradio in Suid-Afrika.

NSN AMATEURRADIO-GEMEENSKAPSDIENSTOEKENNING

Die Suid-Afrikaanse Amateurradio-ontwikkelingstrust verleen jaarliks erkenning aan ’n radioamateur of ’n groep radioamateurs, soos ’n klub of vereniging, vir diens gelewer aan die gemeenskap. Gemeenskapsdiens kan wees soos hulp verleen aan ’n gestremde radioamateur, kommunikasie verskaf tydens ’n sportgeleentheid, of tydens ’n ramptoestand soos padongeluk, vloed, veldbrande of ’n aardbewing.

Volle besonderhede en nominasievorms is beskikbaar by
www.amateurradio.org.za.

DIE SARL SE PROGRAM: WORKED ALL ZS

Vier trofeë is onlangs toegeken aan die top-presteerders in die SARL se Worked All ZS-toekenningsprogram.

Worked All ZS verg kontakte met 100 Suid-Afrikaanse stasies. Sedert 1959 is meer as 300 sertifikate in alle vastelande behalwe Asië uitgereik. Die sertifikate word vir enkelbande of -modusse en vir veelvoude van 100 roepseine onderskryf.

In 2001 het die Pretoriase Wedstrydklub, ZS6Z, onderneem om trofeë aan die eerste drie aansoekers met 500 roepseine te skenk. Dit het byna nege jaar geduur voordat die derde aansoeker die paal gehaal het.

Die grootste faktor in die skielike toename in die gewildheid van WAZS is die vestiging van SA-QSL, die Webgebaseerde elektroniese QSL-stelsel wat Richard Seddon, ZS2CLI, op die SARL se webwerf gebou het. Die stelsel het beide deelname en die maksimum tellings geweldig bevoordeel.

In die afgelope vier jaar is meer as 150 ZS-sertifikate uitgereik, meer as die aantal tussen 1970 en 2006!

Die eerste WAZS-500 is in 2002 deur Chris R. Burger, ZS6EZ, gewen.

Op daardie stadium was Harald Pfeffer, OE6HPD, die naaste aanspraakmaker, met meer as 400 roepseine. Ongelukkig het Harald tot op datum nie die 500-vlak bereik nie.

Jan Botha, ZS4JAN, het in 2007 aansoek gedoen, met die derde aansoek van Gerhard Coetzee, ZS3TG, in 2009.

Jan Botha het intussen voortgegaan om sy tellings te bou, en het in November 2009 die 1 000-vlak verbygesteek. Jan se telling is ten minste dubbel die van sy naaste teenstanders.

Die WAZS-500-trofeë vang die oog, 'n emaljeplaat wat op 'n donker houtbasis gemonteer is. Die WAZS-1 000 is soortgelyk, maar baie groter. Die grootte en ontwerp poog om die omvang van die prestasie weer te gee.

Die trofeë is deur Superb Flight Training geskenk. SFT is 'n vliegskool in Pretoria. Hulle Webwerf is by pilots.co.za.

DATUM VAN PIC-KURSUS BY NARS VERSKUIF

Weens verskeie logistiese redes is die kursus om PIC-programmering in vier uur te leer, verander na 27 Maart 2010. Die SARL het ook met Microchip ooreengekom om die kursus aan ’n groter gemeenskap beskikbaar te stel. Navrae en besprekings het begin instroom binne ure na die nuus oor die kursus vrygestel is. Indien u beplan om die kursus by te woon, moenie uitstel om in te skryf nie. Besonderhede is beskikbaar op www.sarl.org.za, klik op RTA. Slegs ’n beperkte aantal inskrywings kan per kursus aanvaar word.

HOE ERNSTIG KAN DIE UITWERKING VAN RFS WEES?

Van Newsline kom die berig oor ’n inwoner van New Mexico wat beweer dat hy ly aan ’n elektromagnetiese allergie en dat hy om ’n hofsaak teen sy buurvrou aansoek gedoen het omdat sy weier om haar huishoudelike elektroniese toestelle af te skakel. Volgens die berig slaap Arthur Firstenberg in sy kar of by vriende ten einde die elektromagnetiese golwe te vermy wat hy beweer deur sy buurvrou se selfoon, draadloosnetwerk, rekenaar, fluoresserende ligte en lampverdowwers veroorsaak word.

Firstenberg beweer dat die lae intensiteit elektromagnetiese uitstraling wat uit selfone en ander moderne fieterjasies ontstaan, veroorsaak dat hy en andere wat vir radiogolwe sensitief is, hulle erg laat ly. Hy glo dat die newe-effekte van blootstelling naarheid, vertigo, fluitgeluide in die ore, erge hoofpyn en liggaamspyn insluit. Hy skryf ook gewrigspyn, slaaploosheid, verswakte sig, belemmerde spierbeheer en ander kwale aan elektromagnetiese bronne toe.

In die eis word beweer dat toe Raphaela Monribot langsaan ingetrek het, sy geweier het om haar foon, rekenaar en draadloosnetwerk af te skakel wanneer dit nie in gebruik is nie. Toe sy gevra is of sy ’n landlyn i.p.v. haar Ifoon kan gebruik, beweer Firstenberg dat sy botweg geweier het.

Die Firstenbergsaak eis dat ’n regter sy buurvrou stop om haar Ifoon, draadloosnetwerk en haar skootrekenaar se laaier te gebruik aangesien, soos hy beweer, die uitstraling hom uit sy woonplek geforseer het. Hy wil ook $530 000 vir skadevergoeding hê, insluitende $100 000 vir pyn en lyding.

U mag wel vra: wat kom volgende!”

LISENSIEHERNUWINGS

Indien u reeds vir die hernuwing van u amateurradiolisensie betaal het deur gebruik te maak van u lisensienommer mag u steeds ’n rekening van OKOSA ontvang. Die rekenings is gedurende die eerste week van Januarie gedruk maar deur ’n misverstand met die versendingsmaatskappy is die rekenings eers onlangs gepos. Dit mag nog ’n week of twee neem voordat u u rekening ontvang. Indien u reeds betaal het, sal u rekening dit nie toon nie. In sulke gevalle, ignoreer die rekening. U moet ook nie vir OKOSA bel nie.

OKOSA het in ’n verklaring gesê dat hulle nie vir niebetaling sal optree nadat 30 dae eers verstryk het na die pos van die laaste rekenings nie.

REGISTREER NOU VIR DIE SA AMSAT RUIMTESIMPOSIUM

Registrasie vir die 2010 SA AMSAT ruimtesimposium is nou oop. Die simposium sal op 17 April by die Universiteit van of KwaZulu-Natal gehou word. Vroeë besprekers sal ’n aansienlike afslag geniet. Besoek www.amsat.org.za vir besonderhede en en ’n registrasievorm.

Bona fide studente en leerlinge word uitgenooi om vir kostelose registrasie aansoek te doen wat moontlik gemaak is deur ’n skenking van die Departement van Wetenskap en Tegnologie deur die FRD (Foundation for Research and Development) en UKZN.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. Tans doen die klein sonvlekkies 1 051, 1 052 en 1 053 hulle ding vir HF-kommunikasie. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week sal minder as 20 wees.

20 en 15 m is die beste keuses vir DX. Gedurende die middae gaan die toestande na Indië goed wees. Gedurende laatmiddae en aande gaan toestande na Europa goed wees. Kontakte met Australië gaan uitdagend wees. Gedurende die middae is daar 'n goeie kans vir 15 m-kontakte met die VSA. Smiddags en vroegaande gaan toestande op 15 en 20 m na Brasilië goed wees.

Dit wil voorkom of 6 m stadig besig is om te ontwaak met rapporte dat die Keniabaken, asook ander DX-seine, gehoor is.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggende en laatmiddae goeie resultate oor die korter afstande te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate lewer. 20 m het weer van sy glorie herwin en daar kan gedurende daglig goeie kontakte oor die langer afstande gemaak word.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

7 Maart - SARL HAMNET 40 m gesimuleerde noodkompetisie, 12:00 tot 14:00 UTC.
13/14 Maart – RSGB Gemenebes GG-alleen kompetisie.
19/21 Maart - SARL BHF/UHF Digitale kompetisie.
20/21 Maart - SARL BHF/UHF Analoogkompetisie.
27 Maart - Snuffelmark van die Pretoria Amateurradioklub om 08:00.
31 Maart – SARL-80 m-klubkompetisie met PSK en RTD.
31 Maart – Sluitingsdatum vir stadium 1 van konstruksiekompetisie.
17 April – 2010- SA AMSAT-ruimtesimposium.
23-25 April – SARL -Nasionale Konvensie, Port Elizabeth.
7 Mei - Sluitingsdatum vir stadium 2 van konstruksiekompetisie.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars deur te stuur. Stuur dit indien moontlik in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International wat om 10:00 SAT op 145,750 in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op “ARMI” en volg die skakels. ‘n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na ‘n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, saamgestel en geredigeer is.

Dankie dat u saamgeluister het.
/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003